Gijsbertus Seubring

Geslacht: Man
Vader: Martinus Seubring
Moeder: Prijna Michel
Geboren: 12 Sept 1894 Haarlem
Overleden: 17 OKT 1959
Beroep: grondwerker, Haarl. Grondw. Ver. V.Z.O.S., secr. P.A.S.
Aantekeningen: Esperanto-wereldreizigers.
Men schrijft ons:
Twee ingezetenen dezer gemeente n.l. G. Seubring en R. Stoeltje, zijn van plan een reis door de wereld te maken met het doel, aan te toonen, dat Esperanto boven alles geschikt is als internationale verkeerstaal. Zij zijn van plan, om Zondag den 12en Juni te vertrekken van Haarlem uit en dan eerst een rondreis te maken door Nederland, t.w. Leiden, Den Haag, Rotterdam, Gouda, Utrecht, Amsterdam, Deventer, en dan de grens over te trekken door Duitschland, naar Boheme, (Praag) om daar het Kongres des Universala Esperanto Asocio mee te kunnen maken. De reis zal geschieden per rijwiel. De directie der "Hima"-rijwielenfabriek te Amsterdam heeft voor dat doel reeds 2 rijwielen afgestaan. Eerst zal door Europa gereisd worden, en daarna (indien mogelijk) Azië, Amerika, Australië, en Afrika. In alle groote plaatsen zullen bijeenkomsten worden gehouden over Esperanto.
Haarlem's Dagblad, 1 juni 1921
---------------
Adresboek van Bandoeng 1941
Seubring, G., Journalist Halimoenlaan 008
Verbrugh, Mej. J. E. — Halimoenlaan 008
---------------------
1.5.2.3 Reistekste met 'n etnografiese inslag: Gijsbertus Seubring
'n Besonder interessante vroeë reisiger in Midde-Afrika, en skrywer daaroor, is Gijsbertus Seubring. Seubring was nie 'n sendeling of predikant of selfs 'n gebore Afrikaner nie. Hy verwys na homself as 'n Hollander, maar dan tog weer na die Afrikaners in Eldoret (Kenia), as "waar van ons mense boer" (my kursivering). Seubring het drie reisbeskrywings en 'n aantal jeugverhale die lig laat sien, maar word slegs vyf maal vermeld in literatuurhistoriese bronne: Roos (in haar bydraes tot Perspektief en profiel, 1998:51; 2015:121); Nienaber (1959:375-376; 1965:398) en Sandrock (1980:866). Daar is verder geen verwysing na Seubring se Afrikaanse tekste oor die Kongo in die toonaangewende vroeë literatuurgeskiedenisse van byvoorbeeld Schoonees, Antonissen, en Dekker nie; en ook nie in Kannmeyer se meer resente Afrikaanse literatuurgeskiedskrywing nie.
Seubring se vroegste reisbeskrywing het in 1930 verskyn, in Nederlands, met die titel Van Noord naar Zuid, met kameelen, ezels en ossen door Afrika. In die Voorwoord skryf Seubring dat die doel van die reis is om gegewens te versamel omtrent die geskiedenis en kultuur van primitiewe stamme, maar omdat die teks slegs bedoel is as "reisverhaal", ag hy dit nie "op zijn plaats" om die verskillende gegewens van wetenskaplike aard hier te behandel nie. Die reisverhaal dek, soos die titel aandui, 'n reis vanuit Noord-Afrika via onder andere die Kongo, Uganda, Kenia, Tanzanië, Malawi, Mosambiek, Zimbabwe na Suid-Afrika.
Op stap deur oerwoud en woestyn (Seubring 1942b) fokus op die dierelewe wat hy tydens sy reise teëgekom het. Die hoofstuk oor olifante bevat verwysings na verskeie Afrika-lande waar olifante in groot getalle voorkom, onder andere Zimbabwe (1942b:58), Malawi (1942b:66) en die Kongo (1942b:92).
Deur die Donker Wêrelddeel (1948) is ook 'n reisbeskrywing, maar in briefvorm (gerig aan ene "Tironus"), van 'n reis deur Afrika wat ongeveer vier jaar geduur het. Dit was, net soos Du Plessis (1917a) se reis, 'n transkontinentale reis, maar van noord na suid. Dit het in Egipte begin en ook die Kongo, in redelike detail, ingesluit (1948:148-169).
(...)
Hoofstuk 5
"Eens was ik in een dorp in de Noordelike Kongo": Gijsbertus Seubring, wereldwandelaar
Dis mos nie die witmens wat Afrika beheers nie, maar dis Afrika wat hom meester maak, selfs van die blankes!
- Seubring Op stap deur oerwoud en woestyn (1942b:130)
In hierdie hoofstuk val die kollig op die tekste van 'n weinig bekende reisiger, ene Gijsbertus Seubring. Anders as D.F. Malan, Johannes du Plessis en J.A. Retief het Seubring se reis nie 'n politieke of godsdienstige agenda gehad nie; hy reis hoofsaaklik vanweë sy belangstelling in die aardrykskunde en etnografie. Volgens Seubring (1930:309) lewer sy reis in die 1920's, waartydens hy dit regkry om die "Donkere Werelddeel" van noord tot suid te deurreis, en tot nog toe onbekende stamme te ontdek, baie "ethnografische en geografische kennis" oor Afrika op (1930:309). Seubring se reis is dus 'n transkontinentale reis, maar sy roete is van noord na suid - 'n variasie op die "Kaap-na-Kaïro"-reise wat ook deur ander reisigers aangepak is. As deel van hierdie groot Afrika-reis het Seubring onder meer die Kongo besoek.
Daar is min inligting oor Seubring en/of sy tekste beskikbaar in literatuur-historiese bronne. Naas die bronne wat in hoofstuk 1 genoem word, het 'n verdere soektog in databasisse en publikasies wat handel oor die 1920's tot ongeveer 1956 gelei tot 'n ietwat vollediger prentjie. Die herontdekking van die Seubring-oeuvre, veral sy Kongo-tekste, word om hierdie rede beskou as een van die vondste vervat in hierdie navorsingsverslag.
Vervolgens word 'n oorsig gegee van die biografiese inligting oor Seubring wat in hierdie bronne beskikbaar is.
5.1 "A veritable giant of a man"
Chronologies verskyn die eerste berigte oor/deur Seubring in Afrikaanse koerante in die 1920's. In 'n personderhoud met Seubring in 1927 waaroor berig word in De 189
Volksblad (1927a:5) word daar na hom verwys as "mnr. Seubring, die Hollander wat besig is om te voet om die wêreld te stap." Hy word soos volg beskryf:
Die wêreldwandelaar is 'n sterk geboude man van sowat ses voet ses. Sy bruingebrande gelaat kondig dadelik die persoon aan wat daagliks in die opelug onder die son verkeer. Sy moed staan blykbaar in direkte eweredigheid tot die grootte van sy liggaamsbou, want hy het meermale op sy reis deur die onbekende wildernis gevare trotseer wat die moedigste se hare sal laat reis (sic) en nog praat hy daaroor asof dit maar kleinighede was.
'n Drang na kennis was die enigste beweegrede tot die lange en sonderlinge reis wat hom seker baie jare sal neem. Hy is reeds meer as drie jaar op pad en is nog nie eers deur Afrika nie.
Sy ondersoek is aardrykskundig en etnografies en hy is steeds sedert enige tyd besig om die opgedane kennis omtrent die rasse waarmee hy in aanraking gekom het, te boek te stel.
"Ons het u al lankal hier verwag," het ons gesê toe hy die kantoor binnekom. "Familieaangeleenthede het my reis vertraag," was die antwoord "Ek het twee klein donkies en agt hondjies ryker geword en ek moes wag tot die nuwe aankomelinge eers sterk genoeg was om te loop. Dis 'n baie vrugbare land hierdie van julle."
Mnr. Seubring is 'n veelsydige talekenner. Hy is nie minder as tien beskaafde tale magtig nie, ken ook Swahili, en is nou besig om Sesoeto aan te leer. Dit het ons dus nie verwonder dat hy in die kort tyd dat hy hier is 'n taamlik goeie kennis van Afrikaans opgedoen het.
Dis opvallend dat hierdie berig fokus op Seubring se formidabele voorkoms en kennis, maar hom ook skilder as 'n diereliefhebber en 'n man sonder pretensie. Hy gaan tuis "in sy tentjie wat voorlopig oorkant die spoorlyn naby die tronk opgeslaan is" (Die Volksblad 1927a:6)
Seubring word telkens beskryf as die "wêreldwandelaar" wat met 'n buitengewoon lang reis besig is. In "Te voet deur Afrika" (Die Volksblad 1927c) word soos volg berig oor een van sy openbare optredes in Suid-Afrika:
Die wêreldwandelaar, mnr. Seubring, het gisteraand voor 'n propvolle saal onder beskerming van die O.V.S. Onderwysersvereniging vertel van sy ondervindings in Afrika gedurende die afgelope drie jaar.
Die onderwerp het glad te groot geblyk vir die tydjie tot sy beskikking en die gehoor was bly om te verneem dat mnr. Seubring gisteraand maar slegs met 'n reeks lesings begin het. Volgende keer sal hy gerade wees om 'n groter saal te kry. 190
Die Direkteur van Onderwys, mnr. SH Pellissier, het voorgesit en mnr. Seubring voorgestel aan die gehoor onder wie van ons voorste burgers opgemerk is. In die 5½ jaar wat mnr. Seubring al uit Holland weg is, het spreker gesê, het hy 34 000 myl afgestap. Hy reis in belang van die aardrykskunde en dit laat spreker dadelik dink aan groot manne wat hulle lewe vir dieselfde doel gelaat het.
'n Interessante, byna terloopse verwysing na Seubring is dié van die Engelse reisiger Ronald A. Monson in sy reisbeskrywing Across Africa on foot (1931). Monson en sy reisgenoot James H. Wilson ontmoet Seubring in September 1928 naby Wellington (Kaap) en beskryf dit soos volg:
Presently around a bend in the road came a team of pack donkeys urged up the steep slope by a shouting native. In their wake strode a veritable giant of a man, clad in stout sandals, shorts and a shirt that left his great brown chest exposed to the keen mountain air. We halted and exchanged greetings. He introduced himself as Professor G Seubring, F.R.G.S., a Hollander, and a member of the Heidelberg University. Some years before he had started a wandering trip in Northern Africa, and had been roaming the continent ever since, studying its geology and its inhabitants. He was heading for Capetown - and the end of his trip. When we told him we were engaged on a walking trip to Cairo, he wished us well, and gave us some account of the parts he had visited. He informed us, among other things, that about 95% of the Abantu (black people) of Central Africa were sufferers from venereal diseases. On what he based his figure I do not know. I think it is an over-estimate. We learned later that the disease was very prevalent, but as I see it, if the sorry percentage had reached such a figure, it could not remain at it for very long. The native ways of living would rapidly bring it up to 100%. Reductio ad absurdum!" (Monson 1931:12)
Dit is interessant dat dit die enigste verwysing is na Seubring as "professor" wat opgespoor kon word. Geen verdere inligting oor sy akademiese loopbaan is bekend nie. Hy word gewoonlik voorgestel as "mnr. Seubring" of "de heer (G) Seubring". Die verwysing na Seubring se lidmaatskap van die Royal Geographical Society (RGS), die feit dat hy 'n Hollander van geboorte was, sy voorkoms, en dat hy in 1928 naby Kaapstad was, word wel deur mediaberigte of artikels deur of oor Seubring tussen 1927 en 1930 bevestig. Seubring gee in hierdie jare 'n hele aantal openbare lesings in Suid-Afrika en skryf artikels oor sy reise vir Volksblad en De Huisgenoot.
In 'n anonieme, ongedateerde, getikte dokument getiteld "Biografie G. Seubring" wat in die NALN-argief opgespoor is, stel Seubring homself soos volg voor:
Lang, baie lang gelede, op die 12de September van die jaar 1894, het ek, so sê die mense, die eerste lewenslig gesien, in die ou stadjie Haarlem, Holland. Ek was nog maar klein maar het darem gegroei, tot ek op 17-jarige leeftyd die lengte van 6 voet ses en 'n halwe duim gehaal het. Later het ek nie weer gegroei nie. My eerste onderwys het ek op die 191
Kristelike skool in Heemstede geniet, as 'n mens die woord kan en mag gebruik, en later het ek my primitiewe studies op die Openbare Lagere Skool in Haarlem voortgesit. Toe het ek, met moeite, deur die HBS gekom en weer later is ek Leiden-toe. Daar het ek so 'n bietjie Orientologie en Wysbegeerte studeer en ook die fout gemaak om te dink dat die Duitsers betere onderwysers was as die Hollanders. Die gevolg van die fout was toe 'n paar jare in Heidelberg, wat nie tot die lekkerste van my lewe behoort nie, maar ek het darem deurgekom. Om weer wat op asem te kom het ek maar na die V.S.A. verhuis en daar 'n paar jare gestudeer in Standerton [sic] se universiteit. My doel was altyd om die ou wêreld te gaan sien en te ondersoek of hy rond of vierkantig was. Ek het dit nou nog nie uitgevind nie, maar het met baie hoekerige mense kennis gemaak. Hulle pas sekerlik nie in of op 'n ronde aardbol nie!
Vervolgens gee ek Seubring se lewensloop soos dit in "Biografie. G. Seubring" aangedui word. Die Eerste Wêreldoorlog het uitgebreek net toe Seubring wou begin reis. Hy het in 1917 besluit om "'n bietjie van die oorlog te gaan sien", en in 1919 het hy op 'n ou trapfiets in Europa begin toer en vir die Oprechte Haarlemse Courant artikels begin skryf oor "hoe leef die verskillende nasies". Seubring was in Rusland "toe die rewolusie daar uitgebreek het" (waarskynlik tussen 1919 en 1921). Hy is in Rusland asook in Joego-Slawië vir 'n spioen aangesien en gearresteer, maar is telkens weer vrygelaat. Hierna het Seubring via Griekeland en Turkye na Alexandrië gereis, vanwaar hy sy "staptoertjie deur Afrika" in 1921 begin het. Dit het hom byna agt jaar geneem om van die noorde na die suide te stap. By sy terugkeer in Holland in 1929 het hy 'n boek geskryf oor sy wedervaringe (Van Noord naar Zuid, 1930b) en "'n uitgewer was so optimisties om dit ook uit te gee". Hy vermeld die publikasie van 'n verdere boek, Schetsen uit het Donkere Werelddeel, wat deur 'n ander uitgewer aangevra is. Hierdie teks kon ek egter nie opspoor nie.
Hierna het hy uitnodigings gekry van Engeland en die VSA om daar lesings te gee. In 1930 het hy deelgeneem aan 'n ekspedisie na Groenland wat volgens hom 18 maande lank geduur het, waarna hy in 1932 17 maande lank aan die oewers van die Suid-Amerikaanse Orinoco deurgebring het, "tussen krokodille, mensvreters, muskiete en tarantoelas". Hierna is hy na die Verre Ooste gestuur "vir geofisiese redes" en het hy agt jaar lank deur "dele van Sjina, Japan, Formosa, Filippyne, Frans Indo-Sjina, Malakke en Nederlands-Oos-Indië" gereis. In 1941 het hy teruggekeer na Suid-Afrika, waar hy etlike Afrikaanse boeke, "'n paar Engelse boeke'… en een in Maleis" gepubliseer het. Hy verwys verder na twee Afrikaanse geskrifte wat volgens hom al lank "op die pers" was, wagtende op publikasie, naamlik "Grotte van Msenge" en "Swart wêreld". Seubring 192
vermeld meer as een keer in "Biografie G. Seubring" dat die "mees moderne kritisie - en daar is baie van hulle, en boondien is daar een of twee wat self ook skryf" - steeds beweer dat ek nie kan skryf nie". Hierop kom ek later in hierdie hoofstuk terug.
Seubring se eie weergawe van sy lewensloop word op verhelderende wyse aangevul deur Nienaber (1949:375-376) in Hier is ons skrywers! Deel 1, wat vervolgens hier opgesom word. Nienaber verwys na 'n tweede teks wat op Seubring se groot Afrika-reis gebaseer is, naamlik Bantu folklore in Central Africa. Geen datum word verskaf nie, maar dit is blykbaar voor die reis na die VSA (1930) gepubliseer. Ook hierdie teks kon nie opgespoor word nie. Volgens Nienaber het Seubring in die VSA voor "groot gehore" opgetree tydens sy lesingtoer, en was hy die leier van 'n ekspedisie na die Orinoco-vallei in Suid-Amerika (1949:376). Hierdie ekspedisie het ten doel gehad om die loop van die Orinoco-rivier vas te stel en Seubring het as deel van die ondersoek onder meer deur Venezuela en Noordwes-Brasilië gereis. Die reis na die Verre Ooste was in opdrag van die Gulf Exploration Company "met die oog op die aanwesigheid van olielae" (Nienaber 1949:376). Na 12 jaar van reis besluit Seubring om "'n dag of twee te rus". Vanaf 1938-1941 woon hy in Java "waar hy ekspedisies en staptoere tydelik vaarwel gesê en aan die maatskaplike lewe deelgeneem het", onder andere as lid van die Provinsiale Raad van Java (ibid.). Volgens Nienaber (1949:376) is Seubring met me. Tippy Verbrugh, ook 'n skrywer, getroud wat hom op sy verdere reise vergesel het. Sy was self 'n skrywer wat onder die pennaam "Elsie" 'n Afrikaanse kinderboekie getiteld Oor kleintjies vir kleintjies (1944) die lig laat sien het.
Verdere biografiese inligting oor Seubring is saamgestel uit 'n anonieme koerantberig uit "S.7.2.48" (NALN); 'n anonieme berig in Die Volksblad (23 April 1956); en twee berigte (sonder bronverwysings via NALN) oor sy dood in 1959.
'n Berig oor die Seubrings, getiteld "Twee skrywers vertrek op wêreldreis", wat waarskynlik in 1948 in 'n onbekende bron (volgens NALN-knipsel "S. 7.2.48") verskyn het, verwys na Seubring as "die grootste joernalis wat hom die afgelope 6 jaar in die Unie bevind het", met verwysing na sy liggaamsbou ("6 vt. 6½ duim lank en gewig 300 pond"). Die Seubrings word beskryf as "twee bekende figure in die skrywerswêreld" wat pas op 'n reis van drie jaar vertrek het, en in daardie stadium reeds in Bloemfontein 193
was. Hul bestemmings sou insluit: Holland (10 maande); Europa (met Rusland as beginpunt, vir 18 maande); Mongolië, China, Birma en die Maleise skiereiland; en Java op die terugreis na Suid-Afrika. Daar word vermeld dat "mev. Seubring se moeder … vier jaar in 'n konsentrasiekamp in Java [was]". Volgens Volksblad (23 April 1956) het Seubring vir Tippie Verbrugh in 1939 in Java ontmoet, en het hulle teen 1942 saam na Suid-Afrika verhuis. Verbrugh het teen 1956 etlike kortverhale, gedigte, drie boeke in Nederlands en ses boeke in Afrikaans gepubliseer.
In dieselfde berig, getiteld "Ou veteraan weer in wapad op toer van 20,000 myl" word daar geskryf oor 'n gesamentlike reis deur Afrika en Europa wat die Seubrings per karavaan, wat op 'n vragmotor van 3 ton gebou is, sou onderneem. Seubring was op hierdie stadium reeds 62 jaar oud. Daar word in die berig na die Seubrings verwys as "die bekende wêreldreisigers", en na Gijsbertus Seubring as "die bekende skrywer, skilder en swerwer-reisiger" wat opnuut genader is deur Amerikaanse universiteite en kultuurverenigings om lesings oor onder meer sy reise te lewer. Die hele reis sou ongeveer 4½ jaar duur, waarna hulle via Suid-Afrika na die Verre Ooste sou reis.
In die berig (bron onbekend: slegs aangedui as "Eie berig", Stellenbosch) waarin Seubring se oorlye op 17 Oktober 1959, op 65-jarige leeftyd, in die Paarl bekend gemaak word, word vermeld dat hy gedurende 'n reis deur Afrika longontsteking gekry het, en na drie maande in 'n hospitaal in Tanzanië per skip terug na Suid-Afrika gebring is. Sy hart het "baie daaronder gely" en hy was "baie verswak". 'n Verdere anonieme berig, "Man wat deur Afrika geloop het, oorlede" (SAPA, geen datum) verwys na Seubring as die "welbekende skilder, skrywer en lektor" wat 14 tale magtig was en 17 boeke geskryf het: agt in Afrikaans, vyf in Engels, drie in Duits, en een in Maleis.
Uit bostaande blyk dat Seubring vir die grootste deel van sy lewe op reis was, en dat hy inderdaad die benaming "wêreldwandelaar" verdien het. Die fokus in hierdie hoofstuk is slegs op sy reise deur die Kongo, met verwysing na ander lande in Midde-Afrika waar toepaslik. 194
5.2 "Die gasvryheid van Afrika"
Seubring beklee 'n unieke plek in die galery van reisiger-skrywers wat tot dusver in hierdie navorsingsverslag aan bod gekom het. Soos reeds vermeld, was hy nie 'n gebore Afrikaner nie en moes hy dus Afrikaans aanleer. Sy duidelike aanklank by die Afrikaner, na wie hy onder meer verwys as die "geliefde Boeren", help om die kultuurverskille in 'n mate te oorbrug. Hy voel soms sy buitestanderskap in Suid-Afrika aan as sy taalgebruik, voorkoms of vars blik op wat hy waarneem, hom as besoeker merk. In die koerantartikel "Die gasvryheid van Afrika" (Die Volksblad 1927a) noem hy, op die vraag wat die "nuutste nuwigheid" is wat hy op sy Afrika-reis teëgekom het: "Dat hulle my in Clocolan vir 'n fortuinverteller geneem het." In Van Noord naar Zuid (1930b:289) vertel hy oor 'n insident in Messina in "een klein koffiehuis" wat aan 'n mnr. Van Niekerk behoort het, wat by Seubring die verwagting skep dat hy homself in 'n Afrikaanse omgewing bevind. "Maar op mijn vraag naar een glas melk, kreeg ik in de engelsche taal ten antwoord, dat ik niet verstaan werd …". Seubring weier om sy bestelling in Engels te herhaal - daaraan het hy "geheel geen behoefte" - en hy verlaat dus die winkeltjie. Hy verwys na hierdie insident as 'n onaangename ondervinding. Seubring vermeld egter dikwels die gasvryheid en opregtheid van die Afrikaners wat sy pad kruis. Hy spreek telkens 'n gewaarwording van verwantskap met die Afrikaner uit.
Wat sy posisie onder swart inheemse stamme in Afrika betref, kom dit voor of hy meestal heel goed inskakel. Hy leer vinnig nuwe tale (soos Swahili) aan en kan homself ten minste verstaanbaar maak, en sy reis is te voet, wat 'n meer indringende blik op wat hy waarneem, moontlik maak. Hy gaan tuis in inheemse dorpies tydens sy reis en daar is sprake van interaksie op nie slegs 'n kennis-/studievlak nie, maar ook op sosiale vlak. Sy indruk van die inheemse mense is dat gasvryheid ook kenmerkend is van hulle kultuur.
Alhoewel hy volgens die vermelde bronne (sien paragraaf 5.4 hieronder) konstateer dat sy reis en ondersoek aardrykskundig en etnografies van aard is, bied hy sy tekste nie aan as wetenskaplike geskrifte nie. Uit hierdie tekste blyk wel toegespitste aandag vir die habitat (fisiese geografie en klimaat), sosiale struktuur (onder meer familie-verwantskappe en genderaspekte), kulturele gebruike, taal en godsdiens van 'n stam. 195
Seubring slaag grotendeels daarin om 'n bespreking van hierdie wetenskaplike "merkers" te verweef met 'n verhaallyn, karaktertekening en ander literêre elemente en strategieë, al ontken hy dat sy tekste enigsins aanspraak maak op letterkundige gehalte.
5.3 "Wilde men in wilde, onbekende landen reizen "
Uit bostaande blyk dat dit Seubring se plan was om 'n wêreldreis te onderneem, waarvan die eerste been 'n reis deur Afrika van noord na suid sou wees. Hier is dus beslis sprake van 'n transkontinentale reis van Kaïro na die Kaap, wat 'n variasie was op die populêre Kaap-na-Kaïro-roete (Monson en vele ander). Dit is nie 'n reis op die voetspore van volksgenote (Malan) of sendelinge (Du Plessis) nie. Seubring erken elders (1928:35) dat hy wel 'n bewonderaar van groot reisigers soos Livingstone, Stanley, Speke, Park en andere was en hul boeke "verslonden" het. Hy het hom ook, soos bogenoemde roemryke reisigers, baie deeglik voorberei:
Wilde men in wilde, onbekende landen reizen, men vóór alles wetenschappelijk moest onderlegd wezen, en dus legde ik mijzelf toe op zulke vakken as geometrie, physika, menskunde, en aardrijkskunde in algemeen" (ibid.)
Vanaf Alexandrië wou Seubring na Arabië reis, hom vermom soos 'n Arabier, en die heilige stede Mekka en Medina besoek. Hierdie voorneme het misluk, en Seubring moes aanpassings maak aan sy roete.
Dit is noodsaaklik om in hierdie stadium in te gaan op die duur van hierdie noord-na-suid-reis, aangesien Seubring se tydsaanduidings nie altyd van die een teks na die ander ooreenstem nie. In "Biografie G. Seubring" sê hy dat sy "toertjie" deur Afrika in 1921 begin het en agt jaar lank geduur het. Van Noord naar Zuid (1930b) open met die volgende tydsaanduiding:
Nog woedde de oorlog tusschen Griekeland en Turkijë, in de tweede helft van het jaar 1922, toen ik mij aanmelde bij den Immigratie-ambtenaar te Constantinopel.
Hierdie teks lewer verder nie veel datums op nie. Seubring se verwysing na Kersfees 1925 as sy aankomsdatum in Tete (sien Seubring 1930:262) is een van weinige tydsaanduidings. In die Voorwoord tot Van Noord naar Zuid (wat in 1929 geskryf is) is daar sprake van "mijn zevenjaarsche reis door Afrika". Hy maak ook verskoning vir sy Nederlands omdat "ik de laatste negen jaren bijna in het geheel geen Hollandsch gesproken noch geschreven heb, zoodat het mij soms moeilijk viel de juiste woordenkeus te vinden" (1930:262). In 1928 skryf Seubring dat hy Holland in 1920 verlaat het en teen Augustus 1922 in Alexandrië (Egipte) voet aan wal gesit het (Seubring 1928:35). Sy eintlike reis het dus volgens hierdie weergawe eers hierna in die noorde van Afrika begin. In "Te voet door Afrika" (Seubring 1927b:6) word verwys na die begin van hierdie reis as vanaf Alexandrië in 1923.
Sommige van die ander verwysings na die duur van Seubring se reis is ewe verwarrend. Die tydsduur word by tye as "langer dan zes jaren" aangegee (1930:309). Daar word in 1927 op uiters vae wyse berig dat hy "reeds meer as drie jaar op pad" is en "nog nie eers deur Afrika" is nie (Die Volksblad 1927a:6). In Seubring (1927c:6) word dan weer na 'n 5½ jaar lange afwesigheid uit Holland verwys. In De Huisgenoot van 7 Desember (Seubring 1928:37) verskyn daar egter 'n kaart1 met stippellyne wat Seubring se roete voorstel, met toeligting deur die skrywer dat dit 'n agt jaar lange reis was! Die reis, soos op die kaart voorgestel, is verder nie 'n min of meer reglynige tog van noord na suid nie: die stippellyn wyk nie wes af nie, maar vertoon talle "lusse" soos daar heen en weer in 'n gebied gereis is. Sommige lande, soos byvoorbeeld die Soedan, kom meer as een keer aan die beurt; Seubring benader ook die Kongo ("vóórbossen van de Kongo") die eerste keer vanuit die noorde, en later (ná besoeke aan Uganda, Kenia en Tanzanië) reis hy deur die ooste van die Kongo (1928:37).
Aan die einde van Van Noord naar Zuid is daar sprake van 'n terugreis na Holland: "Met een gevoel van weemoed zag ik den prachtigen Tafelberg aan den oostelijken horizon verdwijnen, nadat ik mijn plaats op de 'Waaldijk', die mij zou terugvoeren naar Holland, had ingenomen" (1930:310). Seubring stel 'n volgende besoek reeds in die vooruitsig: "En bij den laatsten aanblik van Afrika wist ik, dat het afscheid niet voor langen tijd zou zijn, maar dat een gevoel van verlangen mij zou terugvoeren naar dit, door vele menschen zoo miskende werelddeel" (1930:310).
Dit lyk dus waarskynlik dat Seubring se groot Afrika-reis tussen 1921 en 1923 in Egipte begin, en dat hy teen 1929 na Holland teruggekeer het. Tussen 1930 en 1941 was hy in Groenland, die Amerikas (Orinoco-vallei) en in die Verre Ooste. Vanaf 1938 tot 1941 woon hy in Indonesië. In 1941 keer hy terug na Suid-Afrika, vanwaar hy en sy vrou nog reise onderneem. Suid-Afrika dien as sy basis tot met sy dood in 1959.
Ek gee vervolgens 'n oorsig van Seubring se oeuvre met spesiale verwysing na tekste oor die Kongo.
5.4 Oeuvre: omvang en resepsiegeskiedenis
Naas die berigte en artikels wat hierbo bespreek is, is daar verwysings na "vorige artiekels" (vergelyk Die Volksblad 1927a) waartoe ek nie toegang kon kry nie. 'n Soektog deur Die Volksblad vóór 5 Februarie 1927 het niks opgelewer nie. Verwysings in Nienaber (1965) en Sandrock (1980) na resensies wat in die Afrikaanse pers verskyn het, is sover moontlik opgevolg. Resensies van Seubring se dieresketse, jeug- en avontuurverhale, asook sy indrukke van Boesmankuns, in tydskrifte soos Ons eie boek, Naweek, Die Unie en Brandwag is nagegaan. Die bespreking hieronder maak egter geen aanspraak op volledigheid nie. Volgens die internasionale katalogus van boekpublikasies WorldCat (2016) het drie Seubring-publikasies in sowel Afrikaans as Engels verskyn (Op stap deur oerwoud en woestyn, Die skatgrawers, en Deur die Donker Wêrelddeel). Die Engelse uitgawes kon egter nie opgespoor word nie Die enkele vermeldings van sy akademiese publikasies wat ek kon opvolg, word hieronder aangedui. Myns insiens bied die tekste wat wel in hierdie studie onder die loep kom, nietemin 'n voorlopige oorsig van Seubring se indrukke van Afrika (landskap, diere, inwoners), sy menings oor beskawing en volksidentiteit (Afrikaan-wees, wit-wees) en sy ervarings in en gevolgtrekkings oor die Kongo.
5.4.1 "Een tamelijke groote ethnografische en geografische kennis, die ik in Afrika had opgedaan": Van Noord naar Zuid, met kameelen, ezels en ossen door Afrika (1930)
Soos hierbo vermeld is, was Seubring se vroegstewerk in boekvorm wat aan my bekend is, die reisbeskrywing Van Noord naar Zuid, met kameelen, ezels en ossen door Afrika (1930b). Alhoewel die doel van hierdie reis is om kultuurhistoriese gegewens oor die lande en hul inwoners te versamel, beskou Seubring sy teks nie as 'n wetenskaplike of letterkundige geskrif nie. Hy noem spesifiek dat "dit werk slechts bedoeld is als een 'reisverhaal'" (Seubring 1930: Voorwoord; sonder bladsynommer). Die teks bestaan uit 14 hoofstukke en dek 'n reis wat begin in Noord-Afrika, en wat besoeke insluit aan die volgende plekke: "Constantinopel", "Alexandrië", "Boven-Egypte", "het Schiereiland van Sinaï", 'n "reis door Egypte naar Nubië", "de Egyptiese Soedan", "door N.W. Abessinië"; "door de Sahara", "reis door Dar Foer en de zuidelijke Soedan" en "De noordelijke Belgische Congo"; dan "door Bahr el Ghazal en de Noord-Congo", "Boven-Nijl" en Oeganda (bezoek bij de Dinka's en Oenjoro's)"; "Kenya Kolonie", "Tanganjieka-Land en Oost-Congo", "Nyasa-land", "Portugeesch-Oost-Afrika en Rhodesië", en ten slotte "door Zuid-Afrika" (Seubring 1930: Inhoudsopgawe; sonder bladsynommer). Volgens Seubring (1930:309) verskaf hierdie reis, waartydens "het mij gelukt het 'Donkere Werelddeel' te doorkruizen van Noord tot Zuid, en in aanraking te komen met vele stammen die tot dusverre nog tamelijk of geheel onbekend waren", vir hom "een tamelijke groote ethnografische en geografische kennis, die ik in Afrika had opgedaan" (1930:309), maar vermeld ook dat sy reis hom nuwe waardering gegee het vir "hoe goed en schoon Holland is" (1930:309-310). Nietemin keer hy terug na Holland met 'n nuutverworwe liefde vir "zonnig Afrika", en 'n begeerte om die kontinent weer te besoek.
'n Resensie deur C.M. van den Heever (1930) wat in Die Volksblad verskyn het, bevat hoë lof vir Seubring se vertelwyse in Van noord naar zuid:
Diegene wat 'n lesing van mnr. Seubring bygewoon het tydens sy verblyf in Suid-Afrika of wat die reeks artiekels in Die Huisgenoot gevolg het, weet watter boeiende verteltrant hy het, hoe hy die wonderbaarlike dinge wat hy gedurende sy romantiese ervaringsvolle reis deur Afrika gesien het, op aanskoulike wyse kan voorstel, sodat selfs by die mees uitgedorde, verbeeldinglose mens onverwags 'n wilde heimwee ontwaak om die geroetineerde lewe te ontvlug, die swygende, geheimsinnige oerwoude van Afrika te aanskou, wat vir Sangiro met so 'n onweerstaanbare suigkrag trek, om die sneeublanke koepel van Kiliandjaro te sien uitrys bo die bosryke wêreld, om oorweldig te word deur die Sahara se golwende sandvlaktes. Wat het van ons Voortrekkerbloed geword, die drang na die avontuurlike, die rusteloosheid wat weelde en wins nie in ag neem nie? Vasgeroes sit ons in ons daaglikse winsgewende posisies, ons word nugtere begripsmense, wat ook al met 'n snobistiese sarkasme van dekadente Europa begin grynslag vir al wat spontaan, romanties en vol avontuurlike bekoring is
Nie ver bokant Suid-Afrika nie lê daar die oerwoude en vlaktes met hul bewoners, wat al hoe vaster gedring word hoe nader die onromantiese en skoonheidsvernielende beskawing aangolf. Hier laat die leeu nog saans die veldbewoners swyg as hy aankondig dat hy sy aantog begin het; hier hul die vlugtende troppe wildebeeste hulle in wolke stof, goudkleurig van die son deurskyn; hier skommel die swaarlywige olifante in troppe deur die krakende bome en sluip die tier met sy slank-beweeglike lyf op sy sagte pote langs die swaar rotse om.
Maar dis ook die wêreld van gevaar, van afgesonderde negerstamme, waar barbaarse gewoontes nog heers, bestry deur mensliewende sendelinge. Ook die wêreld waar baie uitsaksels van die Europese maatskappy hul lewe verder uitbrand en vergaan in morele verslegting … Wie hier in die buiteland sit en kyk hoe die "amptenare" wat na kolonies in Afrika vertrek 'n famielie van half-blankes daar in die lewe roep, sommige meebring en so 'n basterras skep wat geen raad met homself weet nie, kan begryp dat denkende mense die Voortrekker al meer en meer begin huldig as die hoogste en waardigste tiepe kolonis, wat die moderne beskawingslewe ken. Tot in die hart van Afrika het 'n enkele deurgedring, en waar hy hom ook al vestig, het hy ou tradisies hoog gehou.
Hieruit blyk die nou reeds herkenbare aspekte van die "uitverkore volk"-diskoers soos aangestip in die bespreking van die tekste van Malan, Du Plessis en Retief: die idealisering van die Voortrekker en die trekgees; die belang van blanke rassuiwerheid; kritiek teen die verworde Europeër wat die ongerepte landskap en werk van die sendelinge ondermyn om "Lig" na die "Donker" kontinent te bring; beskawing teenoor "barbaarse gewoontes"; respek vir die ou tradisies. Hierdie "resensie" sê bloedweinig oor Seubring se teks. Van den Heever konkludeer met enkele vaaghede oor Seubring se onderhoudende verteltrant, en die "romantiese" leefstyl van die swerwer-reisiger:
Mnr. Seubring vertel op belangwekkende wyse van sy ervarings en raak dinge aan wat ons ernstige nadenking vra. Op geestige wyse word kort-kort 'n voorval geskets, waardeur die leser aangenaam verlok word om sonder ophou bladsy na bladsy om te slaan. Oor Suid-Afrika, veral oor die myne, vertel die skrywer belangwekkende dinge. 'n Lewe vol wederwaardighede, soos die skrywer lei, moet as gevolg hê dat hy oplaas nie meer vas op een plek kan woon soos ons arme maatskappy-gevangenes nie, maar deur die swerwersdrif voortgedryf word en selfs die ontbering leer liefkry
Van den Heever se wydlopige styl wat die gebruik van Neerlandismes soos "wederwaardighede"2 insluit, staan myns insiens nie op dieselfde vlak as dié van sy tydgenote (P.C. Schoonees, M.S.B. Kritzinger, J.R.L. van Bruggen) wat akademies-verantwoorde literatuurkritiek en -geskiedenis lewer nie.
5.4.2 Tekste oor die Khoisan
Seubring het verskeie artikels oor die Khoisan in akademiese tydskrifte gepubliseer:
"Een Boschjesmannenreservaat in Zuid-Afrika in 1929" (1929)
"Three Bushman and Hottentot tales"(1934)
uit:
LINDE BEER - "TIME ERASES WHITENESS ALTOGETHER"? 'N ONDERSOEK NA AFRIKAANSE TEKSTE OOR DIE KONGO (DRK) (1912-2012)
voorgelê ter vervulling van die vereistes vir die graad D. LITT ET PHIL in die vak AFRIKAANS aan die UNIVERSITEIT VAN SUID-AFRIKA
FEBRUARIE 2018